L’Eglise Russe, Nice

Ek verbeel my ek staan op die oewers van die Volga in Moskou voor die Katedraal van Hl. Basil.  Maar ek ruk my nugter:  ek is in Nice voor die grootste Russiese katedraal buite Rusland.  En soos ander toeriste is ek verbaas:  die aandag aan besonderhede in die oprig van hierdie plek is fenominaal.   En die rubels was seker ‘n aardige bedraggie.

Vanaf die middel-19de eeu groei die Russiese gemeenskap in Nice.  Die adel kom adem in die Provencale lug – Stalin se oupa sou dit nie kon beskostig nie. Teen die eeuwenteling word planne vir die katedraal opgeteken.  Bouwerk begin in 1903 en word in 1912 voltooi.  Die finale inwyding van die kerk vind in die 1930s plaas.  Soos Parys, word Nice ‘n hawe vir vlugtende adel ná 1917.

Dit is vir my interessant dat die kerk na Hl. Nikolaas, die wonderwerker van die 4de eeu, vernoem word, hy wat deur Europa vereer word en ook iets met Sinter Klaas te doen het –  interessant omdat die hoeksteen van die Katedraal is deur ‘n ander Nikolaas gelê, hy wat vyf jaar daarna, met sy gesin, deur die Bolsjewieke tereggestel is.

Die Katedraal is in ‘n park nie ver van die Gare de Nice (stasie), ‘n verrassing van grasperke en palmbome in die hart van die stad omring deur woonstelblokke.  Dit is teleurstellend om te vind dat die imposante deure agter slot en grendel is en die groepies toeriste moet tevrede wees om die plek van buite af te neem, wat ek toe doen.  Ek meen die argument is, as jy die binne wil ervaar, kom Saterdagaand 18h00 na die mis toe.  Redelik, dog manipulerend.

Aan een pediment is daar ‘n ikoon van die Doodskleed van Turin, sterk en gestileerd.  Dit is ‘n ortodokse wêreld, dié, wat rakelend, ontwerpsinvloede van die Midde-Ooste toon – kyk die puntige vensters onder die uiespirale.  Dié vensters sou nie onvanpas in die kalief se paleis wees nie.  Tog, is daar enige iets meer Russies as die uiespirale, al ses van hulle aan daardie Katedraal?

Willem van der Walt ©

Vendredi 9 Juin 2012

www.willwilltravel.wordpress.com

Bronne

Foto’s deur W.v.d.Walt 

Advertisements
%d bloggers like this: